OUDTSHOORN NUUS - Union Lategansvlei-sokkerklub het verlede Vrydagaand onder die spreiligte by An Der Alten Försterei 2-sokkerstadion in Lategansvlei vir Jonkers United met vier doele teenoor een geklop.
Die wedstryd is puik ondersteun met talle toeskouers wat opgedaag het om 'n uitstekende wedstryd te aanskou.
Beide spanne het nie teleurgestel nie met aanvallende sokker wat aan die orde van die dag was.
In die eerste helfte het Jonkers United met die intrapslag gewys dat hulle gekom het om te wen deur die voortou te neem met 'n uitstekende doel teen die verloop van spel.
Hierdie doele het die gunsteling, Union Lategansvlei, tot in sy fondamente geskud en kon hulle eers voor rustyd na 'n harde geswoeg, sake gelykop maak met 'n doel van hul eie.
In die tweede helfte het die wiele egter vir Jonkers United begin afval en het Lategansvlei hul dekverdediging na willekeur oopgevlek om drie onbeantwoorde doele aan te teken.
Na die wedstryd het die spelers gesellig met mekaar verkeer terwyl hulle aan heerlike hamburgers gesmul het.
Die organiseerder van die wedstryd, Dario Urbanski, het die borge sowel as die paartjie Gustev en Luzet Reuter bedank vir hul bydrae om die aand suksesvol te maak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’